Joan Hambidge: Skrywerkritikus
Disclaimer



Literatuurkritiek vir die skrywer: die skrywer vir literatuurkritiek

Joan Hambidge

I

Die verhouding tussen die professionele kritikus en die skrywer is nooit 'n eenvoudige of gemoedelike een nie. Trouens, Terry Eagleton het tydens 'n lesingreeks in Maart 1999 aan die Universiteit van Kaapstad ironies verwys na al die bloed wat al verspil is in seminaarkamers.

En Henry Kissinger het ook by geleentheid gesê dat akademiese/kritiese gevegte so intens is "because the stakes are so low".

Tog moet 'n skrywer 'n self-kritikus wees. 'n Mens moet bereid wees om hara-kiri te pleeg, by wyse van skrywe, anders kan daar geen kreatiewe vordering plaasvind nie.

II

Die skrywer is dus by implikasie literatuurkritikus of - teoretikus wat moet kennis neem van al die modes, vergrype, denkrigtings en veralgemenings van die tyd. As 'n mens na die polemieke gaan kyk in Stet (en ander literêre tydskrifte) wat tereg deur Johan van Wyk as modderbaddens beskryf is, blyk dit in welke mate dekonstruksie, postmodernisme, Marxisme en feminismes, deur die jare deel geword het van 'n mens se denkwyse.

As boekeresensent karteer 'n mens ook hierdie ontwikkeling. Dit is nie meer nodig om vir die gewone leser te verduidelik wat 'n postmodernistiese teks alles behels nie: die leser besef instinkmatig wat al hierdie aspekte behels.

Waarskynlik is dit so dat bewegings vloeibaar is en kan verander. Dis amper soos 'n rivier wat oor sy walle kan stroom na jarelange se geduldige, gedienstige (en gedweë) vloei.

III

In Frank Lentricchia se "Testament van een ex- literatuurcriticus", vertaal deur Bart Eeckhout, Nieuw Wereldtijdschrift, 1992:2, bely hy sy chagrin met die moderne literêre teorie wat meer óór boeke skryf as wat dit boeke oopmaak. Die eens vurige polemikus wil eerder terugkeer na die plesier van lees en die talle kritici van die postmodernisme en ander modegiere apploudiseer waarskynlik hierdie testament.

Lentricchia verwys na die vele absurditeite wat die literêre teorie aangeneem het. Sy ontwaking het gekom op 'n dag toe 'n student beswaar aangeteken het oor 'n Faulkner-kursus omdat Faulkner 'n rassis was.

Natuurlik sou daar min oorbly vir die dosent om aan te bied as 'n mens net polities korrekte tekste kan aanbied. Balzac was 'n seksis, Proust gay, Sartre skeel en 'n vrouejagter.

Die postmodernisme is egter deel van ons skryfbenadering. En hierom deel van ons leesbenadering. Ronel Foster en Louise Viljoen se Poskaarte karteer die poësie anders as wat D.J. Opperman dit gedoen het in Groot verseboek.

Groot/klein, Opperman/kleinman staan langs mekaar. Trouens, die meer postmodernistiese digter geniet meer aandag as die streng, konvensionele een - 'n beswaar vanuit die konvensionele oord.

In boekresensies word die postmodernisme ook skerp gekritiseer:"Intellectual impostures" deur Alan Sokal & Jean Bricmont word skerp geresenseer deur Richard Dawkins onder die klinkende titel:"Postmodernism disrobed".

Enige beweging of denkrigting ontlok altyd kritiek en die postmodernisme is natuurlik ook onder skoot. Veral word die oudste truuk in die boek gebruik om uitsprake soos die volgende aan te haal:

We can clearly see that there is no bi-univocal correspondence between linear signifying links or archi-writing, depending on the author, and this multireferential, multi-dimensional machinic catalysis. The symmetry of scale, the transversality; the pathic non-discursive character of their expansion: all these dimensions remove us from the logic of the excluded middle and reinforce us in our dismissal of the ontological binarism we criticised previously.
Enige beweging ontlok kritiek, maar dit maak nog steeds nie die geldigheid van die beweging ongedaan nie. Die postmodernisme se bydrae is dat dit die Absolute Groot Narratief ontken en ons bewus maak van relatiwisme in ons denke. Dat niks finaal of af is nie. Dat elke stelling 'n volgende stelling impliseer. Dat die golf-oorlog, in Baudrillard se woorde, dalk nie plaasgevind het nie, maar net 'n skepping in tekens is.

Dat alles taal of teks is. In die begin was die woord. Aan die einde van die millennium is alles teks.

In die woorde van die Amerikaanse digter, Delmore Schwartz:

He who lives by the word
will die listening


Die digterlike gesprek

Joan Hambidge

I

Om poësie te skryf, beteken dat 'n mens tot 'n bepaalde tradisie behoort. Digters vorm 'n tapisserie van woord en wederwoord, van vraag en antwoord. As 'n mens die digkuns beskou as 'n intertekstuele netwerk of tapisserie, is elke gedig belangrik of tersaaklik.

Die Afrikaanse kanon is aanvanklik bepaal deur D.J. Opperman met sy Groot verseboek. Opperman se sintuig vir 'n goeie gedig is alombekend. Van die eerste digters tref ons hier aan tot en met Johan van Wyk en Theunis Engelbrecht. Ongelukkig het Opperman se bloemlesing nooit die tagtigerjare gekarteer nie, maar Foster en Viljoen se Poskaarte vul hierdie hiaat.

As 'n mens wil poësie skryf, moet jy poësie lees, en eintlik goed ken. My kollega in die Engelse departement, Stephen Watson - self digter - versoek ook studente om gedigte van buite te ken. 'n Gedig word sodoende deel van jou onbewuste.

Nou onlangs vra 'n Engelse kollega my om die volgende reëls vir haar te identifiseer:

die osse stap aan deur die stowwe
geduldig, gedienstig gedwee
Natuurlik weet ons algar wie hierdie reëls gepleeg het. Wat ook belangrik is, is die feit dat sy dit met haar saamdra vir soveel jare: dat dit deel geword het van haar onbewuste.

Dus: as ons nie die Edms.Bpk.van die digkuns ken nie, kan ons nie deelneem aan die gesprek nie. Ons moet reëls kan identifiseer soos:

'n koue gril deurhuiwer my
(Totius)
Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist're geheime vertrou aan die nag

(A.G. Visser)

Die haelwit gestapelde wolke,
Paleis deur die winde gebou!

(Toon van den Heever)

Wys my die plek waar ons saam gestaan het,
Eens toe jy myne was -

(C. Louis Leipoldt)

Ensomeer.

Jy kan nie die digterlike gesprek wat alreeds bestaan ten volle begryp of daaraan meedoen, as jy dit nie ken nie. Om dus digter te wees, beteken dat jy moet weet wat voor jou lê. En, as jy 'n goeie digter is, skep jy moontlikhede of geleenthede vir ander digters wat na jou kom. N.P. van Wyk Louw, Opperman, Peter Blum, Breytenbach, Cloete is waterskeidende invloede in ons digkuns. Hulle verander telkens die manier van skryf so dramaties dat 'n mens die impak op ander digters kan registreer.

Dit is bykans soos 'n rivier wat vir jarelank rustig vloei en dan skielik oor sy walle stroom. Of 'n visbak wat bars - sonder waarskuwing.

II

So 'n digter is T.T. Cloete. Ofskoon nie almal van sy manier van dig hou nie, kan 'n mens nie sy invloed ontken op digters na hom nie. Antjie Krog, Johann de Lange, Joan Hambidge, Daniel Hugo is almal gekontamineer deur hierdie digter.

Nou wanneer is die digterlike gesprek 'n gesprek, en wanneer is dit klakkelose herhaling of blote napratery? In die postmodernistiese era het die grense dramaties verskuif. Beïnvloeding is nie meer 'n vloekwoord nie. Dit is gesprek of intertekstualiteit.

Maar hoe moet die digter sy eie stempel afdruk binne die reeds gesêde sonder om 'n blote naprater of 'n "also ran" te wees?

III

Dit is dan waarskynlik die moeilikste gedeelte van 'n digter se werk: om iemand van raad te bedien. Dit is waarskynlik makliker om kritikus te wees en te sê hoe dit nie gedoen moes wees nie - maar hoe sê 'n mens vir iemand hoe om dit te doen. En dit goed te doen.

'n Mens kan 'n sjef-kursus volg. Hier kan hulle jou leer hoé om te kook. Netjies en fyn. Jy kan 'n vreemde taal via bande aanleer met grammatika-handleidings om elke beginsel te verduidelik. Daar bestaan sulke drie maande kursusse wat bedoel is om jou kennis van 'n vreemde taal op te bou.

Nou onlangs het die uwe haar Frans op die manier weer opgepoets en dit was 'n uiters interessante leerproses want die hele kursus wentel rondom (a) jy wil die taal werklik leer en (b) subliminale seduksie.

Deur die taal te hoor, en weer te hoor, en weer te hoor, leer jy iets van die struktuur van die on-gekende. Ook is dit so saamgestel dat 'n mens in een les iets leer van 'n rekenaar en 'n stuk kaas; van opdrag en behoefte. Soos die lewe daarbuite funksioneer.

Jy leer dus nie reekse lyste uit jou kop uit nie; jy word van meet af aan geforseer om interaktief te dink, te praat.

Wat het dit met die digkuns te make, sou u vra?

Alles. Daar bestaan vele handleidings oor die poësie waarvan die volgende twee die belangrikste is: (a) die Lewe en (b) Ottone M. Riccio se The intimate art of writing poetry (Prentice Hall, 1978).

'n Mens kan nie poësie skryf as jy nie lewe nie. Nou klink dit waarskynlik na 'n teëspraak in my argumentasie. Dit is nie. Jy moet die kanon en verseboeke onder die knie hê, maar jy moet ook die lewe ken. Want werklike gedigte bly jou by, juis omdat hulle iets oor die lewe te sê het.

In elke fase van 'n mens se lewe "praat" 'n ander soort digter met jou. Die digterlike gesprek is dikwels in jou kop. Dit bly jou by. Toe ek op skool was het Elisabeth Eybers en N.P. van Wyk Louw my geïnspireer.

En Antjie Krog en Fanie Olivier.

Die suiwerheid van hierdie digters het my aangegryp. Hulle het iets vir my gesê wat ek nog nie kon verwoord nie. Daarvoor was ek te jonk, en waarskynlik ook nie in staat om my eie emosies te beskryf nie.

Krog se "Ma" het met my gepraat, by wyse van spreke. Ek wou so dig. Maar ek kon nog nie. Olivier se liefdesgedigte was ook aangrypend.

Ook het ek Lina Spies ontdek. En in die Standertonse dorpsbiblioteek het ek die poësie van hierdie digters my eie gemaak. Hulle stemme het in my geklink. Ek was subliminaal bewus van hulle.

Sodat ek kon wegskryf van hulle. My eerste bundel, Hartskrif (1985) is dan 'n soort testament en huldeblyk van hierdie stemme. 'n Eerste opgaaf en 'n soektog na my eie stem.

IV

Hierna het ek dieper beweeg in die digkuns, 'n volledig obsessionele proses. Die binnewaartse(binneaarse?) reis is gesinkopeer met reise na verre, eksotiese plekke, soos die Skandinawiese lande en Suid-Amerika, onder meer. Instinkmatig het ek besef: poësie eis vervreemding op sowel in blik as in taal. En die Jungiaanse beginsel is ook tersaaklik: die binnewaartse beweging het 'n uitwaartse beweging gesoek om sig te komplementeer.

Tydens reise is ek altyd onder die indruk van die toeval, van sinkronisiteit en hoe gedigte hulle aanmeld, bykans soos 'n onaangekondigde besoeker of dief.

Die liefde, dood, reis en die digkuns het my groot onderwerpe geword, maar in so 'n mate dat 'n mens nie meer weet waar die een begin en die ander ophou nie. Digters, het W.H. Auden gewaarsku, het die digkuns liewer as die geliefde.

Dit is helaas nie 'n eenvoudige oorsaak-gevolg-aksie nie, maar waarskynlik 'n diep, primordiale proses waarby die digter onbewustelik betrokke raak.

Verskeie digters het al geskryf oor hoe hulle nie poësie gekies het nie, maar dat die digkuns hulle gekies het. Pablo Neruda is onder meer so 'n digter; Erica Jong en Sylvia Plath glo ook so. 'n Film soos Il postino (en die CD van die gedigte) beklemtoon dat die digkuns nie dood is vir gewone mense nie.

O ja, hierdie proses beheer totaal jou lewe en in Donker labirint het ek die waansin van hierdie proses beskryf. Antjie Krog het by geleentheid vir my gesê hierdie bundel is een waansinnige gedig. Dit sou wees want dit is geskryf in 'n periode van drie maande: tussen drie en vyf uur in die oggend. Daarna kon ek rustiger skryf toe ek gereis het en Kriptonemie geskep het: in die koue Nederland en Italië. Later het Verdraaide raaisels weer die volledige obsessionaliteit van die digkuns beskryf: hierdie keer met reis deur Suid-Amerika.

As 'n mens verby die liefdesgeskiedenis kyk wat dit opvang (en probeer besweer), handel beide bundels in wese oor die digkuns en die primordiale aard daarvan. By 'n kreatiewe skryfskool mag en behoort 'n skrywer oor haar eie werk te praat want 'n mens is nie as sober akademikus aan die woord nie.

'n Mens kyk nou van binne na buite en hierdie referaat word dan iets van 'n soort opgawe - asof daar 'n vendusie van 'n mens se gedigte gehou gaan word. Dit gaan vir soveel; drie gedigte vir die prys van een!

Die belangrikste raad wat 'n digter vir 'n jong, voornemende digter kan gee, is om eerstens beheer oor jou emosies te kry. As 'n sanger nie reg staan nie, kan dit die stemgehalte aantas. As 'n digter nie sy/haar emosies buite die self kan plaas nie, kan 'n mens nie daaroor skrywe nie.

Maar as 'n mens die emosies doodmaak of weet wat die hewigheid veroorsaak (het), kan 'n mens ook nie langer dig nie.

V

Kom ons (probeer) kyk na die ontstaan van 'n gedig:

Nattskata (uit Palinodes, Haum, 1987).

A great black presence beats its wings in wrath.
- Anthony Hecht

Die ongenooide besoeker
dring hom op aan my.
Bly boonop lank ná middernag.
Laat deursigtige voetspore,
arglistige tekens agter.

Iets klap sy vlerke in woede; iets
klap sy vlerke in wrewel.

Die opdringerige besoeker
betrek my bed; bedreig
my private drome.
Soggens proe dié onhoflike gas skurf in my mond. Mý mond.

Iets klap sy vlerke in woede; iets
klap sy vlerke in wrewel.

My gasvryheid beproef; my gulheid
ooreis. My ongevraagde
besoeker dring deur tot my:
"hoon nog deze veel te schone poëzieschool" -
leer die gebaretaal

van woedende tekens.

Hierdie gedig illustreer ironies genoeg juis die gesprek waaroor ek dit het: Anthony Hecht en Lucebert word in hierdie gedig ingebring. 'n Gedig geskryf teen ander digters in, as 'n soort bekentenis dat 'n gedig se betekenis altyd 'n ander gedig is, aldus Harold Bloom.

Die nattskata is 'n vlermuis, 'n dier bekend om sy radar-blik en die vrees wat dit inboesem. So is dit ook met die digkuns gesteld: dit bring 'n mens onder die indruk van die radarblik en die gevoel van vrees wat dit by 'n mens kan inboesem. 'n Gedig meld hom aan, soos 'n onverwagte besoeker, eintlik soos 'n dief.

D.J. Opperman het geglo 'n gedig kan nie teruggevoer word na 'n bepaalde datum of insident nie. Ek het altyd verskillende weergawes van gedigte gehou om die proses van transformasie te bepaal.

VI

Maar vir die voornemende digter is die gesprek agter die ontstaan van 'n gedig van minder belang as die tegniese raad waarvan hy bedien kan word. Ons het almal emosies, idees of versugtinge, maar om dit gedigvorm te plaas, dit is die uitdaging.

'n Gedig besluit self of dit 'n kwatryn, rondeel, sonnet of ballade wil wees. Overgesetsynde: die grootte/hewigheid van die emosie/idee bepaal die lengte/vorm van die gedig.

'n Haiku veronderstel 'n klein, dog universele emosie; 'n sonnet 'n beeld en toepassing; 'n ballade 'n lang verhaal met 'n uiteindelike toepassing. Dit beteken dat die digter dan hierdie vorme moet ken.

Daar bestaan vele handleidings ten einde vorme te leer. Die beste manier van leer is deur nabootsing. Neem 'n sonnet van 'n bekende digter en bepaal hoe het die digter hierdie gedig "aanmekaar gesit".

As ons kyk na N.P. van Wyk Louw se "Vroegherfs" het ons 'n volmaakte sonnet voor ons. Trouens, hierdie reeks "Vier gebede by jaargetye in die Boland" imponeer juis om die tegniese beheer.

En, dit spreek 'n mens ook emosioneel aan. By wyse van spreke: 'n geslaagde gedig is tegnies volmaak, maar dit is nie wat 'n mens eerste sien/hoor nie. Dit is eers wanneer 'n mens die gedig analiseer dat jy die digter se truuks raaksien.

Jy sien die rympatroon raak, die metriese patrone, die fyn samehang tussen beeld en toepassing. Nou is N.P. van Wyk Louw so 'n oorrompelende stem dat 'n mens nie sy stem kan ignoreer nie.

Sheila Cussons se digkuns is 'n antwoord op N.P. van Wyk Louw se gedigte en die gesprek tussen Tristia en Die swart kombuis is al uitgewys. By die digter uit die tagtigerjare, Johann de Lange, vind ons 'n soort versoening tussen hierdie twee stemme. De Lange se digbundels is 'n verbeelding van die soektog na sy stem.

Eers is dit Cussons wat hom "verlei"; later veral in Wordende naak word dit 'n versoening tussen Louw en Cussons. Hierdie gesprek tussen drie digters beteken dat De Lange eers Louw en Cussons se gedigte goed moes ken alvorens hy sy eie verse kon skryf.

Bibliografie

Cussons, Sheila. 1978. Die swart kombuis. Tafelberg.

De Lange, Johann. 1980. Wordende naak. Haum.

Foster, Ronel en Viljoen, Louise. 1997. Poskaarte. Tafelberg/Human & Rousseau.

Hambidge, Joan. 1989. Donker labirint. Tafelberg.
1985. Hartskrif. Human & Rousseau.
1989. Kriptonemie. Human & Rousseau.
1987. Palinodes. Haum.
1990. Verdraaide raaisels. Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1962. Tristia. Human & Rousseau.

Opperman, D.J. 1951. Groot verseboek. Tafelberg.

Riccio, Ottone, M. 1980. The intimate art of writing poetry. Prentice Hall, New Jersey.


Die intieme aard van die digkuns

Joan Hambidge

I

Die titel is geskaai van Ottone M. Riccio se The intimate art of writing poetry, 'n handleiding uit die begin van die tagtigerjare en 'n studie waarop Johann de Lange, die digter, my attent gemaak het.

Poësie, anders as die skilder- of sangkuns, werk van binne na buite. 'n Mens beweeg na die chora of pre-linguistiese spraak wanneer jy 'n gedig skryf, aldus Julia Kristeva.

Intimiteit voorveronderstel ook dat dit onbehoorlik sal wees om dit op uitstalling te plaas of bekend te maak. Tog is die skryf en publikasie van gedigte 'n paradoksale proses waarin die intieme openbaar gemaak word.

Terselfdertyd is dit dan ook so dat nie alle gedigte intimiteite verklap nie: daar is politieke of sosiale gedigte, daar is huldeblyke. Maar alle gedigte beweeg tydens die skryfproses terug in hierdie pre-linguistiese prosesse, in hierdie onbewustelike domein wanneer dit geskryf word.

Hoe meer die wêreld verander en aanspraak maak op ons sinne, des te meer sal die digter behoefte hê aan die binnespraak, aan die intieme aard van die digkuns.

Hoe meer die internet, e-pos, faksmasjiene, telefone en antwoordmasjiene ekstensies van die self word, des te meer sal daar behoefte wees aan die binnespraak.

'n Mens word geraak deur die dood van 'n goeie vriend of geliefde, 'n Bach-kantate of gebed. Dit is alles vorme van die binnespraak. Die digkuns gee uiting aan hierdie prosesse en selfs digters, soos 'n Lucebert wat dit hoon of 'n digter wat dit mag parodieer, moes eers erkenning gegee het aan hierdie emosies alvorens dit verminder of geparodieer kon word.

II

Heilna du Plooy se vertaling van Eddy van Vliet se 'n Pleidooi vir die poësie, wat in 1998 verskyn het, verskaf tersaaklike sleutels vir hierdie bespreking. Van Vliet wys dan ook daarop dat daar verskeie teenstrydige definisies oor die digkuns bestaan, waarvan Nichita Stânescu se definisie my aanspreek: "'n risiko op eie rekening". Om hierdie proses te omskryf, is onmoontlik, meen Van Vliet.

Hierom is dit waarskynlik beter om die intieme aard van die digkuns via gedigte te probeer beskryf:

Ons ken Herman de Coninck se pragtige ars poetica, in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo.

Poësie

Soos wat jy vir 'n siek dogtertjie sê:
my miniatuurmensie, my selfgemaakte
verdrietjie, en dit help nie;
soos wat jy 'n hand op haar warm voorhofie
lê so dun as sneeu gaan lê, en dit help nie:

so help poësie. (p. 59)

Of Donald W. Riekert se programgedig in Wensbeen uit 1995 praat so oor die poësie:
Wensbeen

Voor die ou haan daardie môre
in die bloubosmik kon kraai
knak Pa sy nek met een kap
van die handbyl Spat sy rooi kam
op uit die kameeldoring se kapkyl
Verwonder ek my oor die rooi
van die son se opkom en die bloed
Die haan wat afnek spring spring
Lê die haan bruingebak in die pot
staan Ma wensbeen in die hand
Maar met die vet gly die groter
been oor in my hand weet ek
die son sal môre weer rooiveer sit
op die haan se ou slaapplek
(p. 9)


Beleg

Voetjie vir voetjie het jy deel geword van my.
eers my hart, toe my kop geannekseer.
Oorwin elke gebied van my liggaam
soos in oorlog: bloedig en gewelddadig.
Dit kon ek nog verduur - die aandklok-
reëlings van die liefde.

Maar toe word jy deel van elke gedig
se hartslag. Die idees vuur jý aan -
sillabe vir sillabe beleër jy sodat
my verse stroef begin praat - die morose
klanke van verlies.

Daar word verwag dat die klanke eersdaags in opstand
sal kom. Dat die paarryme in woede
wil opbreek, die beelde sal verloop - die ritmes
onreëlmatig, ongedurig gaan word - "vers libre",
"vers libre", sal hulle gil.
(p. 21)

Dit is drie gedigte wat onafhanklik van mekaar die intieme aard van die digkuns beskryf. In Herman De Coninck se gedig word die paradoksale aard van die poësie beskryf: dit vertroos nie, maar tog kan die digter nie anders as om dit te bedryf nie.

In Donald Riekert se "Wensbeen" vind iets komplekser plaas. Die gedig vang die primordiale prosesse op van dood wat lewe verskaf en dit lewer ook kommentaar op die Freudiaanse "family romance" en die seun se insestueuse liefde vir die moeder. In sowel Freud as Lacan se teorieë moet die jong seun die gesag van die vader aanvaar, anders kan hy gekastreer word. Die gedig lewer kommentaar op hierdie prosesse wat sig in die onbewuste afspeel en volgens die psigoanaliste aan die basis van poëtiese taal lê. Vir sowel Julia Kristeva as Jacques Lacan is poëtiese taal en die metafoor gekoppel aan die pre-linguistiese of die pre-simboliese.

Dit maak dan ook nie saak of Riekert bewus was van hierdie prosesse nie; sy gedig lewer kommentaar daarop net soos wat die gedig ook iets wil sê oor die poësie se krag om hierdie prosesse te vergestalt.

In die Hambidge-gedig word die intieme liefdesverhouding tot 'n bloedige revolusie verklaar, maar meer nog, tot 'n revolusie-van- taal. Die klanke sal opbreek in 'n "vers libre" oftewel, 'n vrye vers, 'n gedig wat hom dus nie steur aan die eise van die prosodie nie. Die einde van die liefdesverhouding en die daarmee gepaardgaande pyn en verdriet, "die morose klanke van verdriet", sal in opstand kom. Die private, intieme domein van die gedig sal 'n soort slagveld of bloedige revolusie word - tog met die wete as 'n mens die gedig binne bundelverband lees, dat dit alles futiel is, omdat die geliefde nooit weer sal terugkeer nie.

Dit is dan drie uiteenlopende gedigte, maar terselfdertyd drie gedigte wat kommentaar lewer op die intieme aard van die digkuns, iets waaroor 'n digter sig altyd sal uitlaat, al is dit apropos van iets anders.

Dikwels is die intimiteit 'n bysaak, maar bysake kan hoofsake raak, het 'n digter ons geleer!

Poësie is, myns insiens, by uitstek die genre wat grensoorskrydings, die ongewone, die absurde, die intieme, die private en die intieme registreer. Wanneer dit in ander genres plaasvind, dan gebruik die skrywer as't ware poëtiese tegnieke om angs of binnespraak voor te stel. 'n Mens dink hier aan Germanicus of die romans van Virginia Woolf.

III

Poësie lewer kommentaar op dit wat nie in woordelyste of grammatika-boeke staan nie, as ek die beeld van 'n persoon wat 'n vreemde taal aanleer, weer mag gebruik. Poësie is by uitstek dit wat tussen die lyste, vervoegings en verbuigings staan. Alle digters weet hoe 'n mens voel wanneer 'n gedig, sonder waarskuwing, sig aanmeld.

Dit is ook so dat 'n mens nie rasioneel kan verduidelik waar 'n gedig vandaan kom nie. Jy dink miskien jy kan dit totaal verreken, maar poësie is immer die forel wat 'n reënboog laat flikker in sy skubbe.

Ten einde poësie te skryf, moet 'n mens leer om maniere te vind om met die intieme saam te leef. Digters wat al in 'n kreatiewe proses vasgevang was, sal almal kan getuig dat dit obsessioneel word. Of dat dit is soos om met 'n gestremde of onstabiele persoon saam te leef. Net voor menses is my kreatiwiteit op sy hoogste. Aan die einde van 'n verhouding betree ek die landskap van die pre-linguistiese of pre-simboliese: vir die digkuns 'n noodsaaklikheid.

Wat hou die digter buite die abnormale of verhoed dat hy/sy finaal gesertifiseer word? Poëtiese taal funksioneer immers volgens dieselde prinsipes as diegene wat ly aan afasia, oftewel, 'n persoon wat konkreet en metonimies dink. (Hieraan het Roman Jakobson aandag gegee.) Digterlike taal vertoon ook kenmerke van skisofrenie. Dit is konkreet in die voorstelling van 'n abstrakte wete.

Alle mense ervaar pyn, maar nie almal kan of wil dit verwoord nie. Die volgende tegnieke behoort die jong digter van raad te kan bedien:

# Hou 'n dagboek waarin jy emosies, ervarings en indrukke opteken.

# Lees soveel gedigte van ander digters.

# Vind 'n digter waarmee jy identifiseer of iemand wat jou visie op die lewe deel.

# Bepaal waarom 'n spesifieke gedig jou aanspreek. Skroef die gedig uitmekaar. Kyk na die metriese patroon, die rymskema, die verband tussen beeld en toepassing. Herskryf die gedig in 'n ander digsoort en probeer vasstel waarom die digter byvoorbeeld die vorm gekies het waarin die gedig aangebied word.

# Skryf 'n gedig. Herskryf dit telkemale. Los dit om ryp te word.

As 'n mens 'n gedig verloor, keer dit altyd weer terug, maar onthou: in 'n nuwe vorm, want 'n mens is eenmalig die mens wat jy nou is. Hierdie digter sal nooit weer so intens voel oor die liefde nie. Ook gewoon nie die energie hê om 'n gedigte met soveel drif te kan skryf nie.

Dit is dan ook wat 'n mens by jonger digters mis: drif. 'n Jong Erica Jong skryf vir die digter Mark Strand 'n brief waarin sy hom vir raad vra. "You haven't been fucked by poetry yet," skryf hy terug.

"Oh where's the bloody horse?" kan 'n mens byvoeg. Hierdie kunsvorm eis totale, maar totale begeestering op. Dit verduur nie halfhartigheid nie.

Bibliografie

De Coninck, Herman (vertaling: Daniel Hugo). 1996. Liefde, miskien. Kaapstad: Queillerie.

Hambidge, Joan. 1989. Kriptonemie. Kaapstad: Human & Rousseau.

Riekert, Donald W. 1995. Wensbeen. Kaapstad: Tafelberg.

Van Vliet, Eddy (vertaling: Heilna du Plooy). 1998. 'n Pleidooi vir die poësie. Pretoria: Protea Poësie.

Terug na BO

Terug na die Inhoudsopgawe

Terug na die basisbladsy








Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/joankrit.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]